My bosveldleerskool

Februarie het afgesluit met ’n oorvloed van dinge. ’n Oorvloed van reën het veroorsaak dat die water deur die krake en lasplekke in my khaya deursyfer. Dit het ook veroorsaak dat ons toilet se drein heeltemal volgeloop het. Inderdaad, die water het deur die toilet begin opstoot. Ons is genoodsaak om nommer twee vir ’n paar dae te weerhou, óf om met ’n graaf en rol witgoud die veld in te vaar. Natuurlik het die paar bewolkte dae ’n demper op my gemiddelde gemoedstoestand gehad. Die maand van liefde was vol innerlike konflik. Die hormone op hol saam met die vloedwaters. Want so dankbaar is ons tog vir die reën. In drie dae het dit ’n goeie 70mm gereën. Wie kan nie daaroor jubel en juig na die harde droogte wat agter die rug lê nie? Die lewe is maar yin en yang. Elke wolk het ’n goue randjie. Ons het altyd iets om voor dankbaar te wees. Al is dit net die dak oor jou kop. Ek kan myself net die ongemak indink in ’n sinkplaathuis in hierdie weer!

Vandag skyn die son weer en ek is dankbaar vir die stappie dam toe. Oppad soontoe dink ek terug oor die jaar wat verby is. Die groot skuif, die groot verandering in my lewe…van stadsmuis tot veldmuis. 2016 het het op die rug van die Europese swael verbygevlieg. Ek het so baie dinge geleer. So baie herhinneringe gebou…

Terugblik op 2016: van Gauteng na KwaZulu-Natal.

Dis die Acacia karroo in blom wat die nuwe jaar aankonding met ’n goudgeel verwelkoming. Die lug is soet en die blousysies tjirp en twiet dat dit suis. Die rooibekkweleas shoesh deur die lug. Dit is die tekens van die seisoen. In die natuur het alles ’n plek en ’n tyd.

Dit was ’n groot skuif vanaf stad na veld. Ek was effens geskok toe ek vir die eerste keer die pondokkie sien waarin ons sou intrek: twee vlermuismis-bedekte vertrekke van so twee by drie meter, geskei deur ’n piepklein kombuisie. Badkamer met stort, toilet en wasbak buite. Maar met ’n bietjie verf kan enige plek in ’n nessie omskep word. Albeit, ’n wilder-nessie. Ek het die beste van die geleentheid gemaak, die maatband uitgepluk en die plekkie van hoek tot kant gemeet. Ek wou presies uitwerk wàtter van my besittings wel kan saamtrek bos toe.

Dis altyd goed om te trek. ’n Mens gooi uit, gee weg en maak skoon. Maar dié trek het baie losmaak vereis. Erfstukke en boeke moes Hospice toe en sentimentele boksies met skoolbriefies het hulle in die asblik tuisgemaak. Klere en skoene is geskenk. Vier Borde, vier bekers, vier paar messe en vurke is uitgetel. Net die nodige bakke en kombuisgereedskap kon saam. Uitsluitlik die bed en ’n paar meubelstukke moes alles op een sleepwa pas. ’n Antieke kas en paar bokse het wel in die skoonouers se garages agtergebly. Maar ek moes van AL my tydskrifte ontslae raak …

Herman is met ’n blik verf en to do-list vooruitgestuur, so teen die tyd wat ek en die uitverkore besittings by die ons pondokkie opgedaag het, was hy meer leefbaar. Die eerste paar dae is spandeer aan kombuisrakke (van ou kasdeure) bou, uitpak en in-settle. Daar is groot bevrediging in die opknap van ’n plekkie en gou-gou het ons ’n snoesige nessie aanmekaar gesit. En so het die avontuur begin!

 – Ons pondokkie before & after –

Soos alle avonture is daar opdraendes en afdraendes. Soos hulle sê, “come rain or high water”. Ek het baie die afgelope jaar geleer, gesien, verloor en gekry. ’n Groot skuif bring baie wysheid, die hardste les is die verlange na familie en vriende, maar die wildernis bring ook ander voordele. Die stilte. Natuur. Nagtelike besoekers. Geroep van jakkalse, en voëlgeselsies. ’n Mens leer om te luister, te kyk, te ruik.

So het ek geleer: Elke uur van die dag het sy geluide. Suidelike waterfiskaal sing saam met die wekker met sonopkoms. Die grootstreepswaeltjies kom sit dan op die wasgoeddraad en klets in robottaal. Later kom die geroep van die groenvlekduifie in die bos langs die huis en ’n swartbekkakelaar vlieg oor die sinkdak. Die eerste maal wat ek hom gehoor het, het ek gedink dis ’n visarend.

Af-en-toe kom maak die witborssuikerbekkie ’n draai by die nagblom. Deur die loop van die dag hoor mens ’n aaneenhoudende “meeeitjie-meeeitjie-meeeitjie” en wanneer Piet-my-vrou eers begin, is daar geen keer aan hom nie. Dit twiet behoorlik, regstreeks–van wewer tot bontroklaksman. Laatmiddag hoor ek die fluit van die nonnetjieseende op die dam en in die vêrte kraak die bloukransvoël en sy maat. Teen skemer brul die volstruis nes ’n leeu en dan begin die nonnetjiesuile hulle skril roep tot laat in die nag, wanneer ou bees die asblik omgooi en ’n kaapse ooruil sy prooi in stilte sit en dophou. Dit is die gesels van die bos.

Een wintersoggend is ons voor ses wakker geklop deur ’n dassievoël. Sy het onophoudelik teen die ruit kom kap-kap. Die daaglikse besoek het amper drie weke geduur voordat sy saam met ’n maat hier weg is. Lente het die witrugaasvoëls in swerms hier aangebring. Elke ding sy tyd en plek. So kom die ystervark ook jaarliks op dieselfde tyd wortels grawe voor ons khaya.

As ’n mens eers die veld leer ken, dan besef jy hoe min jy eintlik weet. Op die oog af lyk die grasvlakte soos een soort gras. Maar gou besef jy dat die stukkie veld oortrek is met honderde verskillende soorte spesies: Melinis repens (my gunsteling), Cymbopogon cachius, Themeda trianda, Eragrostis superba, Eragrostis robusta, Uruchloa mosambicensis is maar ’n handjievol van die name wat ek kan onthou. En dieselfde geld vir bome. Eers is alle doringbome Acacia. Later kry elkeen ’n naam. Acacia sieberiana (papierbas), karoo (soetdoring), tortillis (haak-en-steek) … Hoe kosbaar is dit dan om elke boom by sy naam te leer ken. Maar ook baie harde werk! Deesdae is Acacias ingedeel in óf Senegalia of Vachellia genus. So eintlik praat ons nou van Vachellia karroo of Senegalia caffra. 

Aan dié bos het ek my hart verloor. Aan die zebras wat smorrens en saans in die pad raas, mis en roep: kala-kala-kala en Eland wat snags agter die huis klik-klak. Aan die rietbok wat skemers in die vlei fluit en ou rooihartbees, wat soos ’n duiwel op die horison staan en loer. Aan die koedoes wat stokstil agter ’n boom wegkruip en die jakkalse wat tjanked die sonondergang bewonder. Aan die kameelperde wat soos hyskrane bo die bome uitsteek en wat kom ondersoek instel as jy te voet aangestap kom. Dlulamhithi, word hulle in Zulu genoem. Dit beteken, “bo die bome”. Hoe beskrywend. Aan die witrenoster, wat sy stertjie krul en in die rondte trippel voor hy pad vat en swartrenoster wat sy skilpadneuslippies in die lug steek as hy jou reuk kry. Die waterskilpaaie wat soos afval in die dam inplons as jy nader stap en jou soos ’n duikboot van onder die wateroppervlakte dophou. Hulle almal het my hart gesteel.

Selfs die spinnekoppe en motte en torre en miere het deelgeraak van my leef-en-laat-leef motto. Dis nog net muskiet en bosluis wat laaste kom in die geveg om oorlewing. Dié twee parasiete is die een erger as die ander. Hier noem ons die vlieënde vampiere daywalkers, want hulle is al voor tien in die oggend aktiewe jagters.  Daar is min dinge wat jeuk en brand soos ’n Weenen muskiet- of bosluisbyt. En om een of ander rede, is albei hulle MAL oor my bloed.

Vanaand sit ek weer my boude en blaaie vir ’n peperkorrel of twee en fynkam. Maar ek kan met ’n oopgesluite voordeur gaan slaap en more my sleutel in die deur los as ek dorp toe ry. Hoeveel plekke is daar nog in Suid Afrika waar mens so veilig is? Ten spyte van die verlange na my mense in die stad en uiteet, vlieks, whoolies goodies en wegneemetes … besef ek dat ek nooit weer sal kan terugkeer na die ratrace wat ek agtergelaat het nie. Ook dit is ’n borrellende innerlikke konflik, ’n donderwolk met ’n goue randjie,’n yin en yang. Die gogga het my gebyt …

 

Gedaanteverwisseling

Gedaanteverwisseling

Ek ry terug Weenen toe, na ’n week in die stad. Dis asof ek ’n ander wêreld agterlaat. Sodra die sementfabriek agter my lê, verwelkom groen landskappe my. Soos ’n hond wil ek die besoedeling van my afskud. Die onlangse reën het die grasvlaktes groen gevlek en hier-en-daar saag die stroompies deur die bolaag. In die verte blits die donderweer en roep my nader na die veld. ’n Paar druppels reën klip-klap seremonieus op die voorruit. Is die droogte gebreek? Die vaalrivier lyk voller en ek wonder hoeveel reën ons nog moet kry voor die droogte regtig gebreek is. As ek so lank en vêr ry raak my gedagtes lank en vêr. Ek besef so baie dinge verander, maar sommige dinge bly onveranderd. Die droogte bring ons almal op ons knieë. Maar wanneer die storm bars en ons wegvee soos wat ons mot en mier wegvee is ons verstom.

Wanneer ek so terugry na my huisie in die wildernis, is dit asof ek terugkeer na ’n ander tyd, ’n eenvoudiger tyd. Die kontras tussen stad en platteland ontrafel soos ’n speurverhaal. Soveel dinge het ek vanselfsprekend aanvaar wat ek nou vir die eerste keer ontdek. My oë het oopgegaan. En ek self ondergaan ’n gedaanteverwisseling.

Die sibriana landskap groet my–omhels my soos ’n moeder. Ek is so bly om terug te wees in die natuur. Ek maak die Clio se vensters albei oop. ’n Koel windjie waai deur my hare–die reuk van reën klou op die wind. Die wêreld is nat–dit het goed gereën. Elke poeletjie water het lewe. Ek ry stadig en loer deur die lang gras. Themeda triandra en Cymbopogon cachius dans in die briesie. ’n Trop hartebeeste staan en kyk my verstom aan terwyl die jongste opgewonde in die rondte hardloop en bokspring. Sy ligbruin pels vloei soos ’n modderstroompie deur die gras. Ek ry amper oor ’n verkleurmannetjie…vies vir myself dat ek hom nie dadelik raakgesien het nie. Sta-ka-to trap-trap hy deur die poeletjie. Ek besluit maar om al die poeletjies mis te ry. Wie weet wat in die vars modder woel en waak. Orals in die veld lê dammetjies bewoon deur waterskilpaaie. Die nonnetjieseende fluit vrolik vir mekaar oor die water. In die lug hang die soet reuk van Acacia karroo en –tortilis wat vroeg begin bot.

Ek hou voor my huisie stil. Skaam en skaamteloos staan die sementgeboutjie teen die voet van die koppie. Sy geel verf lankal verblyk in die Afrika-son. So baie dinge het verander. Soveel goed het ek opgegee maar soveel meer het ek gekry.

Ek dra my tas tot in die kombuis en ’n honderd klein flatties groet my teen die muur. Die somer bring nuwe lewe.

Onder in my kombuislaai ritsel iets… my hart klop effens vinniger. Daar is nog heelwat waaraan ek gewoond moet raak. Ek is te bang om die laai oop te maak en te kyk–soos Herman sê, “fear of the unknown is the greatest fear of all”. Ek staan nog so, gryp die besem en tik teen die laai. Niks…Na ’n minuut sien ek ’n klein bruin koppie by die laai uitpeul. Twee voelertjies voel-voel hierdie kant toe, daardie kant toe. En daar peul ’n duisendpoot by die laai uit, en plons op die vloer. Ek lag vir myself–lekker bangbroek.

Elke dag is ’n nuwe ontdekking, elke dag word ek liewer vir die dinge wat kruip en krioel. My hartklop bedaar. Ek het vrede. Totdat ek in die maanlig badkamer toe stap en twee solifuges op my afstorm. Ek gril en spring met een groot sprong tot binne in die stort en klap die deur agter my toe. Dis maar ’n proses. Eendag sal ek leer om diè harige grillies ook lief te kry.

Waar my hart tuisgaan

Ek loop nog onskuldig oor die sementvloer van my klein pondokkie, toe steek die duiwel so diep in my hak in dat ek hom in sy eie boosaardige taal vloek en ´n halfuur lank iessegrimmig voel. Die wêreld lê oortrek van die duwweltjies. Dis heerlike somer en die dorings lê soos landmyne geplant voor my betonblokstoepie. Maar die onvergenoegdheid is darem van korte duur. Kaalvoetloop is uit soos koekies in die weeshuis op hierdie plek en dit maak dat ek eers vyf maande later die verbleikte pienk naallak (wat twee derdes uitgegroei het) van my toonnaels afhaal… Dan sien ek ook die peppertick tussen my fieleflooi en piepie-in-die-kooi-tone. Wonder hoe lank hy al daar vasbyt. Maar ek het my les geleer – ek dra deesdae die tweezer in my broeksak saam. Na vêrdere ondersoek kry ek nog een op my heup. Die lewe in die stix.

So gaan dit soms ook dat die afsondering my onder kry … die eensaamheid loop saam soos ´n skaduwee. Ek sien dae lank uit na die NG kerk se wildsfees. Daar verander Bok van Blerk my in ´n patriotiese Afrikaner en ek sing saam De la Rey asof ek sélf die lirieke geskryf het. Elke ontmoeting met my buurvrou is soos soetkoek en ek sukkel om weg te loop na ´n vinnige koffie wat drie ure duur. Dan besef ek die waarde van vriendskap en ek wens ek kon méér tyd saam met my mense spandeer het toe die geleentheid wel daar was. Dié wat mens so vanselfsprekend aanvaar.

Die afsondering maak my bewus van myself en ek word gekonfronteer met wie en wat ek is. Dit is ´n angswekkende ervaring … maar die pad saam met myself word al minder eensaam; my skaduwee word vriendeliker. Die stappie dam toe word ´n ontdekkingsreis –binne en buite my.

 

IMG_3376.jpg

 

Die elande is gewoonlik daar–ou bees met sy een oor stap klik-klak en stadig tot in die middel van die dam se groen grasperkrand en tuur my met sy ronde blink bruin oë aan. Sy huid is verbleik van jare se son op sy rug dra. Hy hardloop nie weg soos die ander nie. ´n Paar van die koeie staan nog en snork-snork, ruik my in die lug. Die zebras het lankal al stof gemaak en laat streep, die twee vlakvarke ook. Die oomblik duur lank. Ek en ou bees deel ´n geheim wat net ons siele kan ontsyfer. Ek ruik die nat reuk van dam en dou – die wind dra hoop vir reën. Dis ´n kosbare oomblik, op ´n kosbare plek. My hart wil virewig hier bly. Dorings, bosluise, bytplekke en al!

Ek stap stadig terug huistoe…gedeeltelik van die doring wat in fielevlooi afgebreek het, maar meer ook vir die geselskap van die Calpurnia aurea wat soos druipklokkies in die wind wieg. Die veld fluister boodskappe heen en weer en ek voel soos ´n vreemdeling, ´n besoeker. Hoe vêr het ons weggedwaal dat moederaarde ons nou soos ´n stiefkind aansien … of eerder, ons haar as stiefmoeder op ´n afstand hou?

Sal ek eendag weer my voete in die grond ingrou en my wortels een word met my oorsprong, my wese my siel en sin? Sal ek ook uiteindelik my rus vind in die skoot van my moeder en een word in haar arms–weer deel van die dorings wat soos martelaars in my vlees indring en my herrinner waar ek uiteindelik vandaan kom? ´n Wyse man met die naam Grey Owl, het immers gesê: “You belong to nature, not it to you”.

Grille ontdekking

Grille ontdekking

Een sonnige oggend soek ek my dagboek in my rooi sleeptas. Ek moet my kop amper binne in die tas druk om orde te skep in die deurmekaarstorm wat daarbinne woed.

Ek skrik vir die blou plastiekdeksel wat my opgeswel en dikbek aangluur soos ’n afgeskeepte vriend. Ek verstaan sy gevoel van verwerping want ek besef dadelik dat die kosblik nou al langer as ’n maand daar in die donker dieptes van die tas moes lê.

Ek is bang om hom uit te haal en my akkedisbrein fluister volhardend in my binne-oor dat ek hom eerder daar moet los. Maar ek is nie meer op skool nie, so ek kan nie meer diè grille taak aan moeder se knap hande oorlaat nie.

Met ’n trae beweging lig ek die kosblik stadig uit die tas. Dit lyk asof die inhoud telkemale probeer ontsnap het uit hul plastiekgevangenis. Bloed, sweet en trane swel by kante van die plastiektronkdekseltjie uit.

Na twee asemsnakke en herwinde deursettingsvermoë kry ek uiteindelik die moed bymekaar om die gyselaars te bevrei. Ek is verstom oor hul voorkoms.

Die maand-lange aanhouding het hulle só vermom dat ek net-net ’n skaaptjoppie en halwe stukkie botterskorsie kan uitmaak–albei harig en bebaard; wit van die muf. Hulle lê soos spoke daar, só dood dat hulle weer begin lewe kry het. Verbeel ek my of krioel iets tussen tjoppie se wit mufhare?

Die reuk tref my boonop soos ’n vuishou tussen die oë wat nou begin traan. Dis daai tiepe reuke wat lank agterbly … ure, selfs dae nadat tjoppie en sy maat die buite-asblik hul nuwe tuiste gemaak het.

Diè wetenskapeksperiment bring egter diep herrinneringe terug–van die bedompige reuk van ’n skooltas vol swaar handboeke en toebroodjies wat tot agter jou ore, en tussen die tone, Marmite smeersels agterlaat. Soveel stories en lekkernye is tydens daai ou blou kosblik se lewe uitgeruil. Die dankbaarheid warm in my op soos ek aan die versorging en beskerming van my ouerhuis terugdink. ’n Era het verby gegaan, en ’n tweede lewe lê en wag vir dié houertjie. En ek voel effens jammer vir die deksel wat nou in die skuimwater lê en week–nóg marmite broodjies; nóg vergete tjoppies in ’n donker tas–dit is maar sy voorland; en die ontdekking–myne!

© 2016 Almarie Stander

Drakensberg

Drakensberg
Injisuthi, Drakensberge, KwaZulu-Natal

Hy lê geruisloos en droom in ’n ewige sluimer, toegewoel in ’n dik liggrys wolkkombers wat met elke asemteug stuk-stuk lyf ontbloot. Sy rug is krom–hobbelrug. Sy ribbekas val in klowe teen sy rotsagtige bors af. Uit sy neus vloei ’n stroom; bruisend. Sy snork dreun met die troebelwaters tot onder sy kloue uit.

Miljoene jare slaap hy al só dat die gras hom soos mos toegroei. Springhaas tot eland vind veilige vesting tussen sy bultende spiere. Selfs bobbejaan se blaf wek hom nie.

Hy slaap rustig stil – ’n rots.

En wanneer die miskombers afrol en ons sien hom nie meer nie, weet ons aan die gersitsel van die akkerblare dat hy nog asemhaal en waak…

Hy is immers, die Draak.

© 2016 Almarie Stander

 

https://wildernessieblog.wordpress.com/

Reëngroet

Reëngroet

Die besoek is aangekondig met ’n skielike woedende wind en trommelslag. Queen Mojaji het gedans en geroep en die wolke het geantwoord…

Ek sien hom oor die berge aankom, en toe skielik loer hy by my kamervenster in. Soos ’n vergete vriend staan hy welkom op die drumpel van my voordeur en plof koud en vrolik op my kaal voete. Die eerste reëns val met ’n donderslag en die winterstof se stik maak plek vir die klam reuk van dors grond. Ek hardloop hom tegemoed – sy omhelsing neem my terug na my kinderdae en verras my met die koudheid van elke druppel wat op my kaal arms neerplons.

Elke blom en blaar gaap gulsig na die soetheid van sy lewens-essens. Hy is vrygewig. Hulle dank hom met soet en kleurvolle geure van waardering–die veld is vrolik.

Maar net so gou soos hy gekom het is hy weer weg. Die oerdors skrams geles. Hy het net kom “halo” sê. Ek groet hom langsaam. Maar ek hoor hom nog in die wind – sy stem dra die besoekersboodskap voort. Ek ruik hom lank na hy weg is nog. Die veld en ek is dankbaar.

© 2016 Almarie Stander

 

Oh Gogga!

Oh Gogga!

Ek het nooit beplan dat elke storie op Wildernessie net sou handel oor die dinge wat krioel, kruip en sluip nie … maar dit lyk my dat dié gedaantes aan die orde van die dag (of eerder nag) is hier in die wilde woeste. So vind my beste vriendin Gerda dit ook uit met haar kuiertjie in die land van terpentyn- en rooigras.

Dié besoek was nie ligtelik opgeneem nie. Vooraf is daar gearbeid dat die biesies bewe. Die slawe (almal ekke) het gevee, gesuig, gewas, gewerkskaf en gewoeker met wasgoed totdat die bed sy statigste vorm bekleë het en ek die kombuisvloer met my eie tong kon lek. Spiekeries!

Dit klink dalk bietjie oordrewe maar dié khaya ontvang bitter min kuiergaste; diegene wat dit wel waag word soos koninklikes ontvang. (In Gerda se geval is Herman skoon uit sy eie bed geskop en moes hy in die rondawel op ´n kampmatras gaan balke saag.) Aan die een kant is dit omdat hierdie gas so spesiaal is dat ek al die moeite doen, maar aan die anderkant is dit om voorsorg te tref vir die onvoorsiene gediertes wat in die donker, en onder die bed skuil… Continue reading “Oh Gogga!”